skooltoe

'n Ma stap die pad saam met haar kind skooltoe

Uit mamma se skooldae

Graad 11 (Standerd 9)  Midjaar Eksamen

Afrikaans Eerste Taal

 

 

My Snippermandjie

 

Die snippermandjie is vol en my hart dolleeg.  Die uitsif proses is voltooi…

 

Dit het begin as ‘n eenvoudige soektog na iets…  Ek het gevind dat iets kortkom in my lewe, maar ek kon net nie my vinger daarop plaas nie.  Dae lank was die onsekerheid en twyfel deel van my hele wese, het dit aan my geknaag met tande van vrees en moedeloosheid.

 

Die soektog het stadig maar seker verander in ‘n kas regpakproses.  Naamlose gesigte het uit my verlede ontwaak.  Hulle het met simpatieke oë vir my gelag, hulle neuse in die lug gesteek en soos mis voor die son verdwyn.  Teleurstellings was die volgende wat verwerk en in die snippermandjie gegooi moes word.  Ek het dit begin geniet en die volgende paar stukkies hartseer met ‘n boog na die asblik geskiet.

 

Daar was gebroke vriendskappe en gekraakte verhoudinge.  Saam met dit die herinneringe van die mooi wat daarmee saam gegaan het.  Selfs dit moes uiteindelik deur die openinge in die snippermandjie loer.  Ek was nader aan die einde.  Amper daar waar ek sou kry waarvoor ek gesoek het.  Met die einde in sig, was dit makliker om aan te gaan.

 

Nog ‘n paar beledigings en dan sien ek die bodem.  ‘n Klein stukkie papier trek my aandag.  Ek lees: “Help my asseblief, liewe Vader!” en ek weet, ek het dit gevind.  Uiteindelik.  Daar lê dit.  My geloof.  My selfvertroue.  EK!  My menswees het nie in die snippermandjie beland nie.

 

 

Daar is baie wat ek vandag aan hierdie stuk sal verander maar dit sal nie ‘n verskil maak aan die betekenis wat dit in my lewe gehad het nie.

Lewer kommentaar »

liewe mamma

My eerste paar dae van graad 1 was baie lekker en my Juffrou is baie slim.  Ek ken nog nie al die nuwe maatjies in my klas nie want ek het my eie tafel en net ek mag op my tafel skryf.  Ons kry elke dag 2 keer pouse en dan eet ek my broodjies met die konfyt op en die worsies wat mamma vir my opsny.  Ek hou nie van kaassmeer nie dis hoekom ek nie daai broodjies geeët het nie.  Die ander dag was ek nie meer honger nadat ek my muffin en worsies klaar geeët het nie en toe gee ek sommer my broodjies vir my ander maatjies en bêre een vir sussie.  Mamma moet weer vir my muffins bak dit was ook lekker.  Ek is jammer dat my koeldrank die ander dag uit die botteltjie gelek het in my tas en al my boeke nat gemaak het maar ek het regtig die botteltjie toegemaak.

Ek het al 2 keer my hand opgesteek soos ons moet doen as juffrou ‘n vraag vra en ek was reg!  My maatjies het nie geweet wat noem mens die stukkie van jou arm wat aan jou hand vas is nie en toe sê ek vir hulle dis ‘n gewrig en juffrou sê dis reg.  Ek is slim nê mamma?

Hoekom sê juffrou ek werk te stadig mamma?  Die werk met die nommertjies is moeilik en ek probeer dit vinnig doen maar wil nie dit verkeerd doen nie want dan gaan juffrou dink ek is dom ook.  Ek dink mamma moet vir juffrou sê om die horlosie se wysertjies te gebruik soos by die huis in die oggend as ek my pap eet en mamma vir my wys waar die wysertjie gaan wees wanneer ons moet ry.  Dan kyk ek net vir die wysertjie en dink nie aan ander goed terwyl ek moet eet nie, dit werk mos beter nê mamma want nou hoef mamma nie meer elke keer vir my te sê om klaar te eet want ons gaan laat wees nie.  Ek hou van daai werkies wat mamma my laat doen het op die rekenaar Vrydag, dit was lekker en is nie moeilik nie.  Ek het amper almal reggekry!  Ek kan nie wag om te kan lees nie want dan kan ek my rekenaar gebruik wat mamma en pappa Saterdag vir my gekoop het.  Daar is so baie werkies wat ek op hom kan doen maar mamma moet my help tot ek kan lees en self kies watter werkies ek wil doen.  As ek my werkies by die huis kan oefen sal dit nie meer moeilik by die skool wees nie en as mamma vir juffrou van die wysertjie sê sal ek ook al my werkies kan klaar maak.

Ek doen nie meer atletiek by die skool nie, want mamma het mos Saterdag gesien ek hardloop nie so vinnig soos my maatjies nie.  Ek het regtig vinnig probeer hardloop toe ek sien mamma wag daar by die ander mammas en darem het ek ‘n suigstokkie gewen al het ek nie ‘n medalje gekry nie.  Ek het gedink mamma werk nog daar in die huisie waar hulle die koeldranke en ysies verkoop toe ek moet hardloop maar darem kon mamma ook vinnig hardloop en vir my gaan wag daar by die wenstreep.

Sjoe maar ek het geskrik vanoggend toe mamma my daar by die klein skool gaan aflaai en hulle sê die bussie was in ‘n ongeluk.  Ek het gedink die bussie gaan my nooit weer skooltoe kan vat nie en ek moet elke dag saam met mamma ry.  Dit gaan mos net ‘n klein rukkie wees wat mamma my en die ander kinders groot skool toe gaan vat en weer kom haal nê mamma?  Darem ry Anke en my 5 ander maatjies ook nou saam met ons so ek is nie alleen nie.

Onthou om vir my die oulike nommertjies huistoe te bring van mamma se werk af wat tannie Elaine vir my gesoek het op haar rekenaar.  Ek hou baie van tannie Elaine want sy het mos vir my en sussie elkeen ‘n inkleur boek en ons eie potlode gegee sodat ek kan inkleur sonder dat sussie my pla.

Mamma moet nie laat wees vanaand nie want ons moet nog huiswerk ook doen as mamma klaar kos gemaak en ons gebad het.

Ousus

Lewer kommentaar »

Ma maar ook mens

Mammas word toegerus met baie spesiale sintuie om kinders te kan groot maak, ondersteun en dissiplineer.

Met ses sintuie, moederlike instink en ‘n oordosis simpatie behoort daar niks te wees wat hulle kan onder kry nie.  Geen situasie behoort buite hulle beheer te wees nie en hulle behoort al die antwoorde te hê.

Hoe kan ek dan nie verstaan wat my meisiekind se eerste huiswerk opdrag van haar verwag nie?  Dit is tog net een sinnetjie:  “versier die i van bo na onder”  Versier?  Met wat?  Hoe?

Juffer ek het hulp nodig!  Ek mag ‘n ma wees met x-straal sig, supersoniese gehoor, die sagste aanraking, ekstra soet smaak en die vermoë om wegkruipertjies uit te ruik, maar hou asseblief ingedagte dat ek meer as twintig jaar terug so ‘n opdrag ontvang het.

Ek bly maar net ‘n mens!

Lewer kommentaar »

Drome en vrese

Terwyl my drome vir een kind waar word is dieselfde waar van my vrese vir die ander een.

Ousus het twee wonderlike dae van graad 1 agter die rug en selfs al kom sy elke keer heel laaste wanneer hulle atletiek oefen blyk dit nie haar genot te bederf nie.  Haar verjaardag in Desember maak haar die kleinste en jongste kind in haar klas en terwyl ek weet dat sy met individuele sportsoorte altyd agter haar maats sal wees, bly ek hoop en droom dat sy die waarde van spanwerk sal ontdek.

Die enigste manier vir ons as individue om te presteer nessel in die ontdekking van talente wat aan ons gegee is sowel as die ontwikkeling daarvan.  Terwyl ek weet dat my kind nie ‘n talent vir naellope besit nie droom ek tog steeds dat daar wel ‘n item van die sport is waarin sy sal presteer.  Dis tog te lekker om die trotse glimlag op haar gesiggie te sien wanneer sy in haarself tevrede is met wat sy bereik het.  Die teenoorgestelde hiervan breek enige ma se hart in stukke en laat my altyd voel dat ek as ma misluk het.

Terwyl ek hierdie bydrae tik is my hart egter nie by die drome wat ek vir my oudste dogter koester nie maar by die vrese wat diep in elke mamma hart lê vir ‘n mensie vir wie sy verantwoordelik is.  Drome ontstaan uit behoeftes, behoeftes kry hulle oorsprong as gevolg van sekere omstandighede, omstandighede word beheer deur individue… Vrese word gebore uit omstandighede buite ‘n mamma se beheer!

My vrese sluit baie situasies in waarvan nie een groter is as die ander nie.  Ek het gister die pad saam met kleinsus begin stap om so ‘n vrees aan te spreek en soos dit maar is gaan dit ‘n lang pad wees en nog niks is bepaal nie.  In hierdie tyd wat daar ‘n moontlikheid is van ‘n vrees wat realiteit kan word is dit egter baie erg om te hoor dat een van my vrese waar geword het vir ‘n ander mamma.  Die storie van Pippie Prinses is een wat my hoendervleis gee!  Ek ken haar ma, ouma, tannie en niggie persoonlik en daarom is dit so moeilik om te aanvaar.  Ons hoor gereeld van omstandighede in ander se lewens en sê “dis erg”, maar nie todat dit jou eie lewe raak besef jy die omvang van ander se smart nie.

Ek dra hierdie bydrae op aan alle mammas in wie se lewens vrese ‘n rol in realiteit gespeel het.

Lewer kommentaar »

Mamma of muis?

Wat is die verskil? 

Vra enige vrou wat al haar kind (biologies of nie), waarvoor sy selfs haar lewe sal gee, moes vergesel na die begin van enige iets nuuts.  Nuwe dinge bring nuwe uitdagings, nuwe idees bring nuwe dade, nuwe vooruitsigte bring nuwe hoop.  ‘n Nuwe lewe bring al hierdie dinge bymekaar in die hart van ‘n gewone vrou en sy word ‘n nuwe ma.

Oppad skooltoe gee ek nog instruksies, bemoediging, raad en advies… aan myself.  Moenie huil nie, sy sal dit geniet, fokus op die positiewe en bly kalm… aan en aan maal die gedagtes in my kop soos ‘n gekrapte CD wat vashaak op elke tweede liedjie.  Teen hierdie tyd het al die oumas en selfs ‘n tannie al gebel om haar voorspoed toe te wens en ek wonder wat van my?  Hoekom is daar nie goeie wense vir my nie?  Het hierdie voorouers reeds vergeet hoe hulle gevoel het op hierdie dae?  Ek is nie jaloers op ‘n sesjarige nie, in teendeel, ek wil nie die een wees wat 12 jaar van skool as my enigste langtermyn vooruitsig het nie, kompleet met huiswerk en…  en toe besef ek wat een van my langtermyn vooruitsigte is: 12 jaar van skool, kompleet met huiswerk, sport en kultuur aktiwiteite sonder enige erkenning vir goeie werk of betrokkenheid.  Maar dis nie al nie, oor 3 jaar begin ek nog so ‘n vooruitsig!

Meteens lyk hierdie dag nie meer vir my so GROOT nie.  In teenstelling met 12 jaar van nuwe ervarings, uitdagings, oorwinnings en teleurstellings word vandag maar net die begin.  Om te dink dat ek die voorreg en verantwoordelikheid het om my kinders te ondersteun nie net vandag nie maar elke dag vir die volgende 12 jaar gee my nuwe hoop.  Hulle gaan my tog nodig hê!  As ousus my nie nodig het om haar vanmiddag te kom haal nie beteken dit nie ek is noodwendig nutteloos nie, ek word net nie vanmiddag benodig nie.  More is nog ‘n dag en die dag daarna ook vir die volgende 12 jaar…

Met hierdie wete diep in my hart gebêre word kleinsus by haar kleuterskool afgelaai met die belofte dat sy haar ousus vanmiddag na skool sal sien en boonop voor mamma gaan weet hoe die groot skool is.  Sy is baie trots en belowe om mooi na ousus se naskool sak te kyk tot sy terugkom.  Ek en ousus ry alleen die klein entjie skooltoe in stilte, elkeen besig met ons eie gedagtes (myne meer ‘n gebed).

By die skool aangekom is dit ‘n miernes van klein kinders in uniform en die atmosfeer bruis van opgewondenheid.  Op die heel kleinste gesiggies kan die grootste trots gelees word: Ek is nou groot!  Dieselfde paar woorde straal uit my dogter al lyk haar uniform groter as sy.  Ons vind haar klaskamer en ek wens skielik ek kon ‘n vlieg teen die muur wees vir elke skooldag van hierdie jaar.  Ek wonder hoe sy gaan reageer op elke nuwe stukkie kennis wat aan haar onderrig word.  Sal sy die vrymoedigheid hê om vrae te vra?  Sal sy die kans gegun word om vrae te stel?  Sy is ‘n baie weetgierige mensie en selfs ek het nie altyd die woorde, geduld of kennis om van haar vrae te antwoord nie.

Haar juffrou wag ons buite die klas in en bevestig dat sy bly is om ousus in haar klas te kan hê.  Ek is gelukkig om gou ‘n paar woorde met haar te wissel en dan is dit tyd om te groet.  Ek kan sien dat ousus gretig is om in die klas in te kom en ‘n sitplekkie uit te kies, maar my ouerhart wil net nie laat gaan nie.  Ek dink aan elke klein dingetjie waaroor ek gou-gou met haar kan praat maar daar is ook net soveel om te sê.  Na ‘n tweede soentjie en drukkie wurm sy haar skelm uit my arms en glimlag vinnig terug na my halfpad by die deur in.  Ek staan vir ‘n oomblik en wonder wat moet ek nou doen toe ek sien hoe die juffrou met die wêreld se begrip in haar oë na my kyk.  Ek draai toe maar om en stap die trappe een vir een af.  Op die heel onderste een borrel die eerste traan uit my oog en rol teen my wang af.

Dis toe dat ek weet:  EK IS ‘N MAMMA!  Muise kan mos nie huil nie…

Lewer kommentaar »

Net een slapie

En so word die slapies al hoe minder tot ons by vandag kom met net 1 om af te tel…

Ek moes in die laaste 24 uur telkemale hoor dat sy nie kan wag vir more nie en met elke glimlag van haar word my keel al hoe nouer.  Ek hoop daar is nog genoeg plek om my aan die lewe te hou vir die volgende 24 uur.

Saam met haar opgewondenheid kom ook die moeilike taak om vir haar 3 jarige sussie te verduidelik hoekom sy nie ook groot skool toe gaan nie en by die kleuterskool moet bly.  Dit sal die eerste keer in kleinsus se lewe wees dat haar ousus nie heeldag saam met haar is nie en ek is bang.  Ousus help ook glad nie met haar verduidelikings van wat by die groot skool gaan gebeur nie aangesien sy heeltemal die verkeerde idee daarvan het.  Sy verduidelik baie ernstig aan sussie hoe sy net in die klas gaan sit en haar lessies leer waarna sy ‘n pouse kry om lekker op die skool se parkie te kan speel of na die diere te gaan kyk. (die skool het sy eie plaaswerfie)  Kleinsus se kleuterskool het dan nie diere nie en sy wil ook nou met alle mag groot skool toe!  Dit gaan baie moeilik wees om kleinsus by die kleuterskool af te laai sonder haar ousus…

My hart het homself probeer versmoor vanoggend toe ek vir ousus vra of ek haar by die skool moet kom haal (net die eerste dag) en of sy met die naskool (ook kleinsus se kleuterskool) se bussie wil ry.  Sonder om te huiwer word ek vertel dat sy liewer met die bussie wil ry en boonop hoef ek haar NOOIT te kom haal nie want die bussie sal…  Wat het ek verwag?  Ek sluk toe maar 3 keer aan die knop in my keel en haal die teleurstelling vinnig van my gesig af wetend dat ek gewoond moet raak aan hierdie gevoel van nutteloosheid.

By die kleuterskool gekom spandeer ek 20 min om alle reelings te tref vir haar naskool asook vervoer en ek weet dat ek nie vannag sal slaap nie.  Hoeveel slapelose nagte gaan dit vat?

By die werk gaan dit mal en ek vergeet amper om die inkleur boek te gaan koop wat sy benodig.  Nee ek het dit nie gelos vir die laaste minuut nie… Het alles reg gehad tot Sondag aand wat ek haar skooltas pak om net weer dood seker te maak en met ‘n skok agterkom die boek wat ek gedink het is ‘n inkleur boek is eintlik ‘n speletjies boek!  Dit gaan nie werk nie en so word ek elke 2 ure van daar af herinner deur ousus om ‘n inkleur boek te gaan koop.  So gesê so gedaan.

Terug by die werk loer ek gou by WordPress in en ontdek Juffer.  Ek val amper van my stoel af toe ek besef dat ek eintlik geen idee het van wat vandag se graad 1’s in die oë staar nie.  Ek besluit nietemin net daar en dan om Juffer se blok te volg en ‘n punt daarvan te maak om my graad eentjie te help waar ek moontlik kan.  Juffer hier kom ‘n ma wat weet wat sy wil doen maar jou hulp nodig gaan hê met baie daarvan!

Vanaand word daar klere en toebehore gemerk en weer gepak.  Ten minste twee mense in ons gesin van vier gaan vannag nie ‘n oog toemaak nie!

My kind gaan skool toe!

Lewer kommentaar »

Van begin tot begin

Nou ja toe!  Ek moes seker hierdie tyd 7 jaar terug al geweet het hierdie dag gaan kom, maar heelaas hier staan ons nou.

2 Slapies voor die groot dag en ek wens dit was nog 7 jaar terug.

My oudste kind gaan skooltoe.  Ongeag die feit dat sy maar nog net 1 maand en 10 dae lank 6 jaar oud is.

Gister presies 7 jaar terug was die dag dat haar pa toestemming gegee het om met ‘n familie te begin en nou voel dit asof my familie uitmekaar spat! Het ek genoeg gedoen om haar nou af te gee aan die invloed van onderwysers en ander kinders.  Gaan sy verstaan dat sy so te sê ‘n jaar agter haar maats is omdat sy in Desember gebore is?  Sy is alreeds so kompeterend al is dit met haar 3 jarige sussie.

Vir jare het ek gedink “dis nog lank voor sy skool toe gaan” en toe breek verlede jaar aan waar die kleuterskool haar automaties in Graad 0 sit om haar skool gereed te kry.  Ek het selfs nog vasgehou aan die idee dat sy emosioneel nie gereed sal wees nie en ek haar nog ‘n jaar kan terug hou.  Wat ‘n ma haarself nie alles sal wysmaak nie…  Die skoolgereedheidstoetse is gedoen en sy slaag met 82%, ek twyfel nog steeds en gesels met elke liewe onderwyser in die kleuterskool in die hoop dat iemand vir my sal sê ek hoef haar nie nou af te staan aan die wêreld nie.  Ek bel selfs die laerskole in ons dorp om hulle advies in te win en word vertel dat in albei is daar ‘n graad 1 onderwyseres wat spesifiek met die “ou kleintjies” werk, so geen hulp daar nie.  Dag na dag kom sy huistoe met ‘n nuwe vermoë om my net verder in sak en as te laat.  Sy leer haar eie naam skryf, begin selfs met sussie s’n en oornag verander my rabedoe in ‘n meisiekind wat nie kan wag vir ‘n stuk papier en potlood om vir Mamma te wys wat sy alles daarmee kan doen nie.  In plaas van buite speel soos altyd sit sy eerder en inkleur of skryf.

Teen die 3de kwartaal begin die uitnodigings van laerskole by die huis aankom en ek moet kies.  Na watter wildernis moet ek haar stuur?  Aangesien ek nie meer kan kies of sy moet gaan of nie het ek darem nog die voorreg van ‘n keuse waarheen sy gaan.  Ek begin lees, google en vrae vra.  Praat met elke lang inwoner van die dorp aangesien ons nog nie lank hier is nie.  Raad kom van alle kante af in en die keuse word al hoe moeiliker.  Die skole se reputasies is albei uitstekend en ek sit met my hande in my hare.  Op ‘n dag knoop ek ‘n geselsie aan met die eienaar van ‘n gewilde wegneemete winkel en vra hoe lank hy in ons dorp woon.  “30 jaar plus” kom die antwoord soos so baie keer tevore.  My eerste gedagte is “fantasties!” aangesien ek weet hy ook kinders het en hulle dan ook hier moes skoolgaan.  (Ek het later uitgevind hy is ook die hoof van my kinders se sondagskool)  Ek vra versigtig uit na sy opinies van die twee laerskole in die dorp en my moed sak toe hy nie ‘n slegte woord van een van hulle te sê het nie.  Ons gesels nog ‘n rukkie oor die verskillende departemente van die skole en eers toe dit by die afsonderlike hoofde kom hoor ek die woorde waarna my hart gesmag het.  Die een is ‘n oupa en die ander ‘n besigheids man… Wat meer wil ‘n ma hoor?  Ek het nodig om te weet dat die skool na my kind se emosionele welstand gaan omsien ook en nie net die fisiese en verstandige dele van haar nie.

So is die keuse gemaak en die inskrywing voltooi.  Skoolklere is gekoop (kleinste van alles en ‘n paar van dit is nog steeds te groot) en my ouers koop haar skooltas.  Toe begin die lang gewag en slapies aftel vanaf November.

Eindelik is dit die nuwe jaar en sy is so opgewonde dat dit my benoud maak.  Wat as dit nie alles is wat sy gedink het dit is en waarna sy so uitgesien het nie?  Wat maak ek as my kind teleurgesteld by die huis kom na die eerste dag?  Hoe verduidelik ek dat daar nog 12 jaar voorlê?  Hoe moet ek reageer as sy my sou vertel daar is kinders wat lelik is met haar?  Hoe troos ek my kompeterende kind wanneer sy nie eerste in alles kan wees nie?  Waar druk ek my kop in die dag wat sy my teegaan met die woorde “maar my juffrou sê”?  Wanneer gaan ek weet of ek genoeg gedoen het en of sy gereed is vir hierdie nuwe hoofstuk in haar lewe?  Hoekom het ek nie al die antwoorde nie?

Wat?  Hoe?  Waar?  Wanneer?  Hoekom?

HELP!

2 Kommentare »